Kaliumvaslegging in 'n Arcadia-grond II. Vaslegging in die kleifraksie

Abstract
Ondersoek is ingestel na die invloed van relatief lae toedienings van kalium, asook drogingstemperatuur, op die vermoë van die kleifraksie van 'n Arcadia-grond, versadig met kalsium of magnesium, om kalium vas te lê. Die verskil in reaksie tussen die behandelings van die Ca- en Mg-kleisisteme was betekenisvol. Alhoewel hierdie smektiet swellende klei aan uitdroging onderwerp moet word alvorens kalium in die tussenlaag ruimtes vasgevang kan word, word heelwat kalium uit die uitruilbare fraksie onttrek onder klam toestande. Hierdie verskynsel kan aan 'n chemiese binding tussen kalium en die kleimineraal toegeskryf word. In die geval van die kontrole en die laagste K-peil het lugdroging 'n vrystelling van kalium uit beide kleisisteme tot gevolg gehad. Verhoogde drogingstemperatuur het 'n gepaardgaande verhoging in die hoeveelheid kalium wat vrygestel word tot gevolg. 'n Verhoging in kaliumtoediening het gelei tot 'n afname in die hoeveelheid kalium wat uit die kristalstruktuur vrygestel word. In die geval van die hoogste K-toedienings van 10,24 mmol(+)kg−1 is kaliumvaslegging by alle uitdrogingsbehandelings op beide die Ca- en Mg-versadigde kleie waargeneem, Binne die gebied van kaliumtoedienings wat algemeen in die praktyk toegepas word, dit is 1,28–2,56 mmol(+) kg−1 (100–200 kg K ha−1), word hoogstens 12,5% van die toegediende kalium aan die uitruilkompleks onttrek (geen uitdroging). Met lugdroging kan daar binne hierdie gebied eerder 'n vrystelling van kalium verwag word.